Alle goeie dinge kom op 'n end
- Anria Breed
- Jan 16, 2019
- 2 min read
As daar een ding is waarmee ek spog, is dit dat ek kan pannekoek bak. Met my ouma se resep en my ma se pan, is nie eers my eerste pannekoek ’n flop nie. Dit is ook nie vir my soveel moeite om pannekoek te bak nie. As die kinders gekla het dat hul honger is, was dit my eerste voorstel. “Wat van pannekoek?”
Toe ons met ons nuwe GF, CF, GMO free – lewe begin het, het ek die beesmelk met amandelmelk vervang en heerlike pannekoeke gebak terwyl ek my laaste koekmeel opgebruik het. Ek het selfs ’n sjokoladegeur amandelmelk gebruik, dit was lekker pannekoek!
Maar ja, alle goeie dinge kom op 'n end. Die koekmeel ingesluit. Reg, ek haal diep asem en gaan koop vir ons Nature’s Choice Gluten Free Cake Flour. 500g vir BAIE geld, maar ek wil vir die kinders gesonde pannekoek bak! Ek gebruik tot regte eiers, jy weet - die van hoenders wat wild rondloop teen die berg en net regte kos eet - daai wat jy eers moet oopbreek in ’n beker, want net-nou val daar ’n kuiken in die meel . . . klapperolie, the works!
Maar.
Die eerste pannekoek flop.
En ons proe en dit smaak lekker! Anders, maar lekker. Ek gooi weer klapperolie in die pan, draai die plaat bietjie af en probeer weer.
Flop.
Gelukkig hou die kinders van floppe ook! Probeer weer, flop. Ek reken, miskien is dit die olie? Ek gebruik gewone kookolie (die ongesonde soort) . . . flop. Flop op flop op flop . . .
Wat was die raad nou weer? Los eerder as om te probeer vervang? Ek gaan maar eerder net die premix flapjacks koop. Dis mos net so goed soos pannekoek?
Alle goeie dinge kom op ’n end. Pannekoek ook. Na ’n paar floppe, het dit in elk geval ook nie meer wat wonders geproe nie. Definitief sal ek dit nie kan bêre in die yskas vir skool die volgende dag nie . . . miskien moet ek ’n ander resep probeer? Oumense was mos om ’n rede so lief vir beesmelk en koringmeel!
(Die bostaande blog plasing bevat alleenlik die opinie van die skrywer. Die skrywer word nie vergoed deur die maatskappy/e of produkte genoem in die blog pleasing nie)

コメント