“Wat de hel?”
- Anria Breed
- Jan 10, 2020
- 3 min read
Ek moes nog nooit pak vir ‘n vakansie, vir my en twee kinders nie. Ons was wel daai een naweek Zeerust toe vir kleinboet se troue, maar dit tel nie. Ons het in ‘n gastehuis oorgeslaap en dit was net twee aande.
Ek maak toe vir elkeen ‘n lys. Igie eerste, want hy het medisyne en issues met eetgerei en goeters, so sy lys is die langste. Danel is maklik, jy vat net baie klere en al twintig swembroekies wat sy besit saam. Solank sy driemaal ‘n dag kan aantrek, is sy tevrede.
My eie lys is die kortste. Die algemene lys bestaan meestal uit “vir ingeval” medisyne …
Lyste help, maar as jy vergeet om goed op die lys te skryf help dit nie. Wel, ons eerste ordentelike vakansie weg van die huis het nie te sleg afgeloop nie. Die enigste wat ek vergeet het, wat belangrik is en nie in Natal gekoop kon word nie, is Igie se oorproppies. Gelukkig kon hy staan in die swembad!
Iets waarna ek die meeste uitgesien het, was om hulle reaksies te hoor wanneer hulle die eerste keer die see sien en besef hoe magtig die magdom water is. Mens vergeet dit. ‘n Skerm vang nooit die massa vas nie. ‘n Kind kan hom/haarself nie die see verbeel as iemand dit beskryf nie. Dit moet beleef word.
Danel se reaksie was onvergeetlik … “Mamma, mag ek gou iets sê?” Sy het op haar knië gestaan en uitkyk by die ruit terwyl ons die pad Hibberdene se kant toe aanpak. “Natuurlik mag jy?”
Ek kon nie wag om te hoor wat sy dink nie! “Wat de hel?”

Ha ha. Wat de hel? Ja, wat de hel het veroorsaak dat die see ses jaar moes wag om Danel te ontmoet?
Igie was heel kalm. Hy het mos al die see gesien … lank, lank terug … al is ek seker hy kan dit nie onthou nie. Eers toe ons ons voete in die sand kon druk het Igie gesê: “Mamma, dit is groter as Sun City!”
Heeltyd. Die sand is sagter as Sun City s’n. Die son is warmer. “Wie gooi al die sout in die water?”
Wie ken die storie van die meultjie wat nooit ophou soutmaak het nie? Dit was op ‘n boot wat gesink het of iets???
See, hierdie is Danel. “Danel, hierdie is die see.” – sy was nie bang nie. Sy wou net heeltyd alleen in … maar ek sê vir haar, ek sê: “Danel, as die see jou intrek kry ons jou nooitweer nie.” Sy is te lig en te mak.
See, hierdie is Igie. “Igie, hierdie is die see.” – hy het geklou vir al wat leef. Was net eenmaal kendiepte in maar het die rock pools gerule!

See, ek mis jou. Ek wens ons kon bly. “Mamma, kan ons nie vir altyd hier by die see bly nie?”
See, ek belowe, as die Here wil sien ons jou Desember weer. “Ek belowe, my kinders. Mamma sal ekstra hard werk hierdie jaar sodat ons weer ons siele kan kom rus op Pumula.”
P.S – het julle geweet jou borsel kan roes?
P.S.S – DANKIE vir almal wat gehelp het om hierdie vakansie so spesiaal te maak. Julle weet wie julle is. God sëen julle en ek het julle lief.
P.S.S.S - Dankie ook vir al my FB vriende se geduld met al die hordes fotos!

Comments