top of page

Daar is altyd hoop.

  • Writer: Anria Breed
    Anria Breed
  • Apr 25, 2019
  • 2 min read

Ek het altyd gewonder hoe ek my kinders gaan groot kry – ernstig! Want nie plant of dier oorleef by my nie. Wreed, ek weet … maar dis nie my skuld nie!?


Ek gee die plante water, ek versorg dit en dan net wanneer ek so trots op die groei is … vrek dit. Ek het al moed opgegee. Ek is baie lief vir blomme, maar eerder wilde veldblomme, want in die natuur is. Waarna ek net kan kyk en aan kan ruik en dan los ek dit net daar, waar dit veilig is. Sodat my vrot – wat is die teenoorgestelde van groenvinngers? Swartvinngers? – vrotvinngers. Ja, sodat die blomme nie onder my vrotvinngers lei nie.


Aangesien ons in ‘n woonstelblok woon, mag ons geen troeteldiere hê nie. Visse en voëls tel egter blykbaar nie as troeteldiere nie. So ek en die kinders het die budgie-ding probeer. Maar nou, na budgie nommer vier gegroet het, het ons ‘n gesamentelike keuse gemaak dat ons dit ook maar gaan laat vaar …


Ek spot soms dat as my kinders nie kon praat en vir my sê hul is honger of dors of moeg of siek nie, sou hul dalk ook nie oorleef het nie. (Wreed, ek weet!)


Die budgie-kos wat oor is, gooi ek so nou en dan op die muurtjie buite vir die ander voëltjies om te geniet. Want ek gaan nie myself weer deur ‘n sterfte sit nie. Dit krap mens om! In elk geval, kom reën en wind en ek staan een middag buite en kyk hoe die son sak en tot my verbasing, uit die bakstene, groei daar wraggieswaar ‘n plantjie. (Moet my nie vra watter een van die saadjies dit is wat besluit het om tussen baksteen en sement te ontkiem nie)


Hoop!


Dit is wat ek gehoor het. Daar is altyd hoop. In dood, lewe. Die koue en ryp is nodig om die koring te jumpstart. ‘n Lieflike groen plantjie kan uit ‘n baksteen groei. Geen hart is te hard om weer nuwe liefde te vind nie.


Daar is altyd hoop.


(Behalwe vir enige plant of dier wat by Anria land.)





Comments


 anria se stories 
  • Facebook Basic Black
  • Black Instagram Icon

Teken in op my nuusbrief en ontvang nuus van nuwe boeke & blogs!

Proudly created by CSaw Designs

bottom of page