Derick het nie geweet ek is gluten free nie.
- Anria Breed
- Mar 13, 2019
- 2 min read
Danel is vyf jaar oud. Goed, sy verjaar amper dan is sy ses, maar vir nou is sy vyf. ’n Pragtige klein strooigat meisiekind met ’n sterk wil en die wete hoe om te kry presies wat sy wil hê.
Beeldskoon, met unieke oë (ek weet nie wat die kleur is nie) en ’n lyfie wat die heerlikste drukkies gee wat ’n mamma-hart kan kry.
Ook is sy glad nie op haar bek geval nie. Sy luister meer as wat jy sal dink en bring ou gesprekke op, op die vreemdste tye – so mens moet maar versigtig om haar praat.
Daar was verlede week ’n verjaarsdag by die kleuterskool en juffrou het vir ons foto’s gestuur van hoe lekker die kinders kolwyntjies eet. Juffrou voel sleg, maar ek’t gesê ek gaan nie alles van Danel weghou nie. Solank hul saam met my, by die huis reg eet dan sal ek nie tantrums gooi as hul saam partytjie hou by die skool nie.
Die aand gee ek vir haar my foon, want daar was baie foto’s wat juffrou gestuur het – oor werk wat hulle in die klas gedoen het EN Danel was die kolle-wenner vir die vorige week. (Die kleintjies kry kolle vir elke iets wat hulle reg, goed of slim doen. Soos opruim, kos opeet of puzzle bou.)
Na sy na die foto’s gekyk het, kyk sy na my met haar groot oë. Sy draai haar kop skuins, sodat haar lieflike krulhare oor haar een oog val. Sy rol haar oë (wat sy sekerlik by my aangeleer het) en praat in ’n vreeslike parmantige stem (wat ek seker is sy het nie by my aangeleer nie) en sê: “Derick het nie geweet ek is gluten free nie.”
Wat ek hoor, is: Ek is vyf jaar oud, Mamma en ek weet van gluten, maar jy mag nie met my raas as ander kinders (en hulle mammas) nie weet ek is gluten free nie.
Ek is gluten free.
Hierdie mamma se hart word daagliks meer trots.

Comentarios