Die Haan het Gelui
- Anria Breed
- May 9, 2019
- 2 min read
Soos ek vir die kinders verduidelik het, gister was nie ‘n vakansiedag om laat te slaap nie, maar vir ons om te gaan stem. Ek het wel gehoop vir ‘n bietjie laatslaap … maar net na ses staan Danel groot oë langs my bed. “Mamma, die haan het gelui. Ons moet opstaan.”
En vir een of ander rede is dit altyd ‘n kompetisie tussen Igie en Danel oor wie eerste wakker is, so toe Igie hoor dat Danel praat, hardloop hy in vollevaart sitkamer toe om eerste op die bank voor die TV te kan wees.
En ek sug. Ons is by die huis, om te gaan stem. Nie laat te slaap nie.
Die haan het gelui. In die dorp.
Vrolik en opgewonde stap ek en my tweetjies oor die pad na die stadsaal toe. Daar was min mense, die ry het flink beweeg en die mense was vriendelik. Onder ‘n halfuur, done. Natuurlik moes hulle my in verleentheid bring – my twee … “Mamma, ons stem nie vir Cyril Ramaphosa nie. Ons stem vir die Bloues.” – KLIP HARD!
“Shhjjjjj”
Van almal daar was die vrou voor ons die vriendelikste. Sy’t ‘n pragtige onesie aangehad en haar hare was mooi opgebind met ‘n helder geel ANC doek. Sy’t met mense in alle tale gepraat. Danel was vreeslik beïndruk toe sy met haar in Afrikaans gesels.
En toe kon ons gaan ontspan, want dit was nog vroeg en koud en ons hartjies was trots.
Ek hoor mense sê hul kon die ink van hul naels met ‘n klam waslap vee … ek het skottelgoed, wasgoed en vloer gewas. Ek het selfs in die stort met die naelskropborseltjieding my vinger bloedrooi geskrop – maar my duim is steeds gemerk!

Comments