top of page

Die Vlieënde Slang-Spinnekop.

  • Writer: Anria Breed
    Anria Breed
  • Feb 22, 2019
  • 4 min read

(Vir James Windhorn, 2019/02/20 deur Anria Breed)


Dit was net ’n shwoop geluid. ’n Aaklige klank wat ek nog nooit gehoor het nie. ’n Shwoop en koue, nat wind wat oor my spoel en toe ek langs my kyk, is hy weg. Ethan. Weg! Al wat oor is, al wat daar is waar hy ’n paar oomblike gelede gestaan het, is ’n paar druppels bloed. Bloed! Net ’n paar druppels. Waar is Ethan?


Dit is skemer. Ek kyk bangerig op. Daar is nie wolke in die lug nie. As ek diep inasem kom ek agter dat dit wat ek gedink het mis is, is rook. Iewers brand iets. Ek besef dit nou. Ek draai om en kyk na die berg. Ja, wragtig. Daar waar die verbode grot is, brand dit.


Vir dekades word ons mense verbied om na daardie deel van die berg te gaan. Oupa sê dit is omdat die grot so diep is dat mens verdwaal sonder dat jy wou en dan wanneer mense jou gaan soek, verdwyn die ook.


Verdwyn, net soos Ethan het. Ek kyk weer af na die druppels bloed. Ek is naar. Waar is Ethan? Ek kyk weer op. Die son het heeltemal gesak. Skemer is rokerig. Dit is amper dromerig. Dalk is dit ’n droom. ’n Nagmerrie. Ek loop nader aan die berg vir geen rede nie. Dit is asof ek hom kan hoor skree. Nie woorde nie, net ’n pynkreed. Is dit Ethan?


Hoekom het ons besluit om hierheen te kom? Was ’n simpel “Ek dare jou” regtig die moeite werd? Nou is Ethan weg en ek is alleen.


Ek weet nie eers hoe ons hier gekom het nie. Ethan het die kompas en die kaart gehad, maar dit is saam met hom weg.


Ek probeer sluk, maar die rook wat ek aanhoudend inasem het my keel verdroog asof dit ’n stuk vleis is wat te lank op die kole gelê het. Vleis, my maag grom. Ons sou braai. Die kos en water is ook in Ethan se rugsak. Ek vee oor my oë en probeer fokus.


Die son het agter die berg gesak, dit beteken ek moet in die teenoorgestelde rigting as die berg loop om uit hierdie Godverlate stuk verbode veld te kom. Kan ek vir Ethan net . . . los? Is dit nie my plig om na hom te gaan soek nie? Dit was tog ék wat die dare gemaak het.


Ek kyk weer op. Skemer is nog helder. Dalk is daar genoeg tyd om uit te vind wat vir Ethan gevat het. Ek gril as ek weer die nat, koue lug voel wat langs my gewapper het. Moet ek nie eerder omdraai en gaan hulp vra nie?


Nee, ma sal so preek teen die tyd wat ek haar laat besef het dat Ethan weg is, sal dit ’n week later wees. Sy sal net preek en preek en nie luister wat ek sê nie. Sy luister nooit nie.


Die gras om my is vaal maar kort. Daar is los klippe ooral. Die berg is nie styl nie, die kranse begin halfpad op en ek besef dat ek in elk geval nie daarmee sal kan opklim tot by die grot nie. Is Ethan in die grot?


Wat het vir Ethan gevat?


Hét iets vir Ethan gevat?

Ek dink weer aan die druppels bloed en raak naar. Hoe kon ek net so staan vries? Ek is ’n flippen man! Ek was veronderstel om te reageer.


Die gras raak langer hoe hoër op met die berg ek stap. Die klippe raak groter. Die dorings meer. Die paar dooie bome, spookagtig. Die rook vou en krul daarom. Ek sien gedrogge. Ek sien goed wat soos moerse slange lyk, met pote. Slange het nie pote nie? Dit klim soos spinnekoppe teen die bome op. Die rook raak dikker. Skemer raak donkerder. Ek hoor sis geluide, hard en oral om my. Slang-sis-geluide maar al wat ek sien is vieslike moerse pote wat vreemde lywe in die bome ophelp.


Ek draai in die rondte maar ek weet nie watter kant toe is op en watter kant toe is af nie. Ek het verdwaal. Oupa het gesê mens verdwaal sonder dat jy weet jy verdwaal. Hy’t gesê dit is asof jy in ’n ander dimensie beland en jy is bo-op die berg, maar die berg is weg. Hoe weet Oupa?


Waar is Ethan? Ek skree sy naam, maar hou vinnig op as die vieslike pote begin rondskarrel. Groot, grillerige spinnekoplywe toring bo die droë, onheilspellende bome uit. Ek sluk droog. My lippe bars oop. My oë brand. Daar is nie trane nie. Ek hoor vlerke wapper en kyk tevergeefs op die lug in. Dit is donker. Die rook en die nag verhoed sterre of maanlig om tot op die grond te val.


Ek hoor die shwoop geluid en val op die grond neer, met my arms wat my kop bedek. Shwoop, shwoop, shwoo-oop. Grillerige pote gryp my mis en na ’n rukkie se stilte draai ek op my rug. Miskien kan hulle my nie raaksien nie.


Dan hoor ek iets land. Dit is ’n helse slag. Soos ’n stuk beton wat neerval. Ek bly lê. Ek het sowaar as vet weer gevries. Ek kan nie eers my oë toeknyp nie. Ek kan nie eers my arms optel om my gesig te beskerm nie. Ek lê gevries, asof ek verlam is, met oop oë. Agt pote, vier aan elke kant van my klim oor my. Harige pote. Spinnekop pote. Moerse, pote en dan hoor ek weer die sis geluid. ’n Slangkop verskyn vanuit die harige lyf en die sluwe oë sien my onmiddellik raak. Die gesplete tong glip in en uit die slangbek. Die slangkop beweeg stadig en sissend af tot net ’n spasie van my gesig af. Sissend voel ek hoe die gesplete tong oor my gesig gly, maar ek kry steeds nie my oë toegeknyp nie.


Dan skiet daar draakvlerke uit die spinnekop lyf en ek weet dit is waar Ethan heen is. Die harige spinnekop pote krul om my lyf en die draakvlerke tel my op en ek word die donker nag ingeneem. Die spinnekop met die slangkop vlieg laag genoeg vir my om te sien dat daar tien-talle kleiner slang- spinnekop vrolike onder rondskarrel en opwindend wag vir hul volgende voeding. Ek hoor myself skree soos wat Ethan geskree het. Nie woorde nie, net vrees. Die tien-talle slangbekkies baklei oor my. Ek word gebyt. Ek word rond gepluk. Ek voel die gif my longe smoor. Slang-Spinnekop kinders verskeur my en ek wonder of ma na my tarantula by die huis sal kyk en of sy dit gaan weggee.




Comentários


 anria se stories 
  • Facebook Basic Black
  • Black Instagram Icon

Teken in op my nuusbrief en ontvang nuus van nuwe boeke & blogs!

Proudly created by CSaw Designs

bottom of page