top of page

Waarom Sywurms nie kan Perdry nie

  • Writer: Anria Breed
    Anria Breed
  • Feb 7, 2019
  • 3 min read

Sebastian is ’n jong sywurm van tien dae oud. Sebastian weet dat dit is nie meer lank nie, dan is hy ’n groot sywurm en gaan hy moet begin spin aan sy kokon. Sebastian sien uit daarna om aan sy kokon te begin spin, maar Sebastian het ’n droom wat hy eers wil bewaarheid. Sebastian se droom is om te leer perdry.


Sebastian het reeds vir hom by die ouer sywurms sorgvuldig gespinde klere laat maak wat perfek om sy wurmlyf pas en ook genoeg gate het vir al ses sy bene, plus sy vyf paar vals bene wat hy moet gebruik om die moerbeiblare stewig vas te hou.


Sebastian het ook vir twee dae al die perde wat in die veld waarin die moerbeiboom staan waarin hy woon, dopgehou. Hy weet dat een spesifike ponie baie lief is vir moerbeie en elke oggend vrolik nader galop tot regonder waar Sebastian geduldig op hom wag. Sebastian kyk opgewonde na die son wat helder en warm opkom oor die koppie in die verte en hy glimlag binne homself. Vandag is die dag wat ek gaan perdry!


Hy peusel aan ’n moerbeiblaar terwyl hy fyn luister of hy die geluid van perdehoewe op die grond kan hoor en wanneer hy die blaar laat val, gaan staan hy op sy agterpote. Die ponies is sigbaar. Soos Sebastian vermoed het, kom die bruin ponie met die wit vlek op sy neus haastig aangedraf en kom tot stilstand regonder waar Sebastain op hom wag.


Sebastian trek spoedig al sy ryskoene aan hys homself stadig af totdat hy reg voor die ponie wat heerlik aan die moerbeie wat op die grond lê smul, se oë is. Hy kug en sê: “Askiestog, meneer Perd, maar kan ek met jou praat?”


Die ponie lig nie eers haar kop nie. Sy bly gulsig die een na die ander moerbei met haar vreeslike groot lippe opsuig. Sebastian sluk, maar weet dat daar nie tyd is vir doekieomdraai nie. Dit is nou of nooit! Hy is hier en die perd is hier en met ’n laaste blik na die vreeslike groot lippe skree Sebastian so hard as wat hy kan: “Askiestog, meneer Perd, maar kan ek jou ’n guns vra?”


Die ponie lig haar kop, maar sien nie vir Sebastian raak nie. “Meneer Perd? Maar dit is tog duidelik dat ek ’n merrie is. My naam is dan Mary-Ann.”


Sebastian antwoord so hard as wat dit vir ’n sywurm moontlik is om te doen: “Ag, askiestog, Mary-Ann. Ek weet nie baie van perde af nie.”


Mary-Ann kyk links van haar, maar sy sien niks nie. Sy kyk regs van haar, maar daar is ook niks nie. “Met wie praat ek?”


“My naam is Sebastian.” Skree die sywurm.

“Maar waar is jy dan, Sebastian?”

Sebastian lag, voor hy verder skree. “Hier, reg voor jou.”

Maar Mary-Ann skud haar kop. “Nee, ek sien jou nie, maar wat is die guns wat jy my wil vra? Wat kan ’n ponie soos ek tog vir iemand doen?”


Sebastian voel die opwinding van sy kop deur al dertien sy segmente hardloop. “Jy kan my toelaat om op jou rug te ry! Ek wil so bitter graag perdry, dit is al wat ek jou vra. Sal jy my toelaat om my een droom te bewaarheid?”


“O, net dit?” vra Mary-Ann. “Maar natuurlik sal ek, maar ... “sy kyk weer verbaas om haar rond. “Jy sal my eers moet toelaat om jou te sien!”


Sebastian haal baie diep asem en skree met al die bietjie krag wat in hom is vir die ponie wat reg voor hom staan: “Hier! Ek is hier, kyk net reg voor jou. Ek hang in die lug. Ek het myself laat afsak met my sy tot hier by jou. Ek is die sywurm wat in die lug hang.”


Dan, sonder waarskuwing of rede, spring Mary-Ann hoog in die lug en trippel ’n paar treë terug. “’n – ’n Sywurm? O nee, net nie ’n sywurm nie! Ons perde is vreeslik bang vir sywurms. Sê vir my jy jok?”


Sebastian het dit nie verwag nie. Hy is nie seker of hy haar moet antwoord nie. Maar hy wil so graag op haar rug ry. “Weet jy hoe lyk ’n sywurm?” vra hy.


“Ja!” Antwoord sy. “Wit en swart en grillerig en as ek een sien, gaan ek op hom trap!”


Met haar woorde het Sebastian so vining soos wat hy kan homself weer opgehys tot hoog veilig in die moerbeiboom. Hy loer af en sien hoe Mary-Ann onder steeds rond trippel, asof sy onsigbare sywurms plattrap.


Hy snik, maar weet. Dit is waarom sywurms nie kan perdry nie, want perde is bang vir sywurms!


© Anria Breed

(Titel verskaf deur Robert Sadler)

2019/01/24



コメント


 anria se stories 
  • Facebook Basic Black
  • Black Instagram Icon

Teken in op my nuusbrief en ontvang nuus van nuwe boeke & blogs!

Proudly created by CSaw Designs

bottom of page