Ek het my eie webblad!
- Anria Breed
- Nov 19, 2018
- 2 min read
Mens moet vriendinne hê. Al is dit ook net een goeie, egte vriendin. In my geval is ek gelukkig en het ek baie goeie, liefdevolle, ondersteunende vriendinne waarsonder my lewe nie alleen saai sou wees nie, maar baie moeiliker ook. Ek hoef nie julle name hier te lys nie, jul weet goed wie jul is en wat jul vir my doen.
Ek het egter een baie spesiale vriendin, waarsonder die moontlikheid van 'n blog, die BLOG wat jy besig is om te lees, nie sou realiseer nie.
Dis iemand wat in my glo ten tye wanneer ek nie in myself glo nie.
Dis iemand wat die beste vir my wil hê en sommer weet wat die beste vir my is, sonder dat ek iets hoef te sê.
Dit is die pragtige talentvolle vrou wat die webblad vir my ontwerp het, en ook besig is om vir my my eie, unieke logo te ontwerp.
Shelley van Rensburg.
Dankie jy. Jy is kosbaar vir my.
Ek het my eie webblad!
Nou het ek nog meer rede om te skryf, skryf, skryf! - regtig, nie alleen sou ek een jaar niemand wat vir my vertel ek sal in een jaar se tyd drie, DRIE boeke gepubliseer hê glo nie, nog minder sou ek dink dat ek 'n webblad en my eie blog hê!!
Wonderlik. Hier gaan ek vir julle baie dinge van baie dinge vertel. Nie net oor skryf en skryfwerk en die min tyd wat ek het om alles te kan skryf wat ek wil skryf nie, maar ook oor die pragtige kinders van my en die lang pad wat hulle stap. Veral my Ig-kabouter. Wat is die beste van my Igman? Die feit dat hy, al gaan hy deur so baie, steeds sy ma gelukkig wil hê. Hy sal enige iets opgee, as dit vir hom voorkom dat hy dinge vir my beter maak. Dit maak my hart tegelyk warm en stukkend. Igie verstaan nie altyd van emosies nie en hy sukkel om liggaamstaal en gesiguitdrukkings te verstaan. So hierdie mamma moet leer om haar emosies in haar gesig te wys, met handgebare!
So om hom te laat verstaan, moet ek nie net knik en sê ek is reg nie, ek moet wys, Mamma is shap met 'n 'thumbs up' , 'n glimlag en gelukkige oë.
Gelukkig oë?
O wee ... ek't meer om te leer as die kinders!

Comentários