Ek is nie goed hiermee nie!
- Anria Breed
- Nov 14, 2018
- 2 min read
Daar is baie enkel-mammas daar buite. Ek is toevallig ook net een. ’n Mamma met twee kinders; ’n werkende enkel mamma van twee special needskinders. Igie, my seun – nege, is onlangs gediagnoseer met ASD (Autism Spectrum Disorder). Danel, my meisiekind – vyf, is volgens almal wat slim is mooi besig om te volg in haar boetie se voetspore. Die lewe is taai, ’n mamma is harder!
Ek het in 2015 my debuut digbundel uitgebring deur Groep7 Drukkers. Volg net die Skoenlappers is direk beskikbaar by my – goeie nuus! Ek beoog ’n herpulikasie met om en by tien bonus gedigte in 2019!
My debuut roman is hierdie jaar, 2018 uitgebring deur Groenheide Boeke onder ’n skuilnaam, Adriaan Breed. Die Nege Siele van Joshua Duran, gevolg deur twee Heideroos Romanses ook beskikbaar by Groenheide Boeke. My Lewe in ’n Tas en Katrien.
Skryf, skryf, skryf ... saans na die kinders rustig slaap en die huis ... wel, nie skoon nie, ons kan sê ... leefbaar is. Dan, plak ek my Laptop oop en ek skryf skryf skryf!
Nie elke aand nie, want, daar is baie boeke om te lees ook! Dis soms ’n moeilike keuse, die moet kies tussen: a) skryf, b) lees, c) huiswerk (dit hou mos nooit op nie!) en d) slaap!
O wee want ek wil baie graag slaap. Wie wil nie slaap nie? Ek sê altyd vir my kinders, slaap asseblief net! Julle weet nie hoe julle nog slaap gaan mis nie! Veral op Saterdag oggende, wanneer hul besluit om vyf dertig op te staan. Hoekom is kinders so lief daarvoor om wakker te word wanneer hul mag slaap en te wil slaap wanneer hulle moet op?
Ander enkel werkende mammas daarbuite, sonder ’n bediende ... hoe doen julle dit? Hier gaan dit maar sukkel-sukkel. Maar ons hou moed! Dan nog die nuwe eetplan ook. Nee, dit is nie ’n eetplan nie, dit is ’n lewenstyl. Gluten, suiker en suiwelvry! Ek is besig om die kinders (en myself) te transformeer. Myself, nie so erg omdat ek moet nie, maar omdat ek regtig nie vir my ander kos gaan (koop of) maak om te eet nie. Nee wat, ons doen dit sommer almal saam.
Gesonder kinders is gelukkiger kinders.
Mamma is net ’n bonus!

ความคิดเห็น