Hoe nou gemaak?
- Anria Breed
- Dec 17, 2018
- 2 min read
Updated: Dec 27, 2018
Ek kan nie myself voorstel dat daar mense op hier aarde is wat sonder seer lewe nie. Elke huis het sy kruis, reg? Elke mens struggle voort. Jy ken nie ’n ander se storie nie, so moet nie oordeel nie.
Ek sien myself as iemand gevul met empatie. Wanneer iemand my genoeg vertrou om af te pak by my, luister ek om te verstaan. Ek luister en verstaan en dan, meestal, is ’n drukkie genoeg om die persoon beter te laat voel.
Een ding wat ek regtig probeer om nie te doen nie, is om my en my kinders se situasie te vertoon asof ek dink ons is alleen in die struggle.
Ons is nie alleen nie.
Ons is op geen manier alleen nie. Vriende en familie en nòg ondersteun ons en stel belang en help op maniere waarvoor ek vir altyd dankbaar sal wees.
Wat ek wel nie verstaan nie, is hoekom?
Wie verstaan ooit hoekom?
Hoekom moet ’n kind deur al hierdie dinge gaan?
Wanneer ek na al my vriendinne en familie se Facebook blaaie kyk dan probeer ek baie hard om nie hulle kinders dieselfde ouderdom as Igie, met Igie te vergelyk nie. Jare terug het dit my onsettend ontstel. As mammas spog oor hul kinders wat dit en dit kan doen, kan skryf en lees en so goed is met sport en en en ... dan het my hart verdwyn en al wat oor was, was ’n bol vuur.
Ek het daaroor gekom.
Ek het my kind aanvaar en ek weet hy is die perfekste stukkie mens gevul met joy en ’n siel soos geen ander. Hy is my Igie. My engel. My geskenk – dit maak nie saak hoe hy op skool vaar en of hy aan sport kan deelneem nie.
Ek verstaan net nie hoekom nie.
Hoekom moet hy so struggle?
Wat het hy ooit verkeerd gedoen?
Bloedtrek is nooit pret nie, maar Igie is al deur soveel ondervindinge en operasies dat hy ’n vrees vir naalde het. Na verlede keer se bloeddrek by die Genetiese Spesialis is ons albei vol moed dat die bloed vir die dokter net so maklik getrek sal kan word.
Nee.
Nie weer nie.
Die susters kry nie ’n aar nie en ek het Igie belowe dis net een steek met die naald, die ses buisies word dan dááruit gevul. Nee, dis ’n steek in die arm en ’n steek in die hand en ’n steek in die voet, Igie raak onsteld en die are val plat en daar kom GEEN bloed uit nie. Nie eers wanneer hul die naald uittrek nie.
Die van julle wat Igie ken, weet hy is baie sterk. Mens kan hom nie vasdruk nie. Ek kan hom nie omkoop of manupileer of niks nie. Hy’s klaar. Daar sal nie verder bloed probeer trek word nie. Ergste ook, hy’t die geheue van ’n olifant. Hy sal nie sy voete weer daar sit nie!
Dokter, hoe nou gemaak?

Commentaires