Hoekom soek almal nou my bloed?
- Anria Breed
- Dec 3, 2018
- 2 min read
Ek en my tweetjies was toe na die Universiteit van Pretoria, na die Genetiese Spesialis. Sy het ons voorgestel aan twee vroue van die Universiteit van Witwatersrand wat besig is met ’n “Development Disorder Study”.
Ons moes toestemming gee om bloed te gee vir navorsingsdoeleindes om so ook vas te stel of het my kinders Noonan Sindroom. As nie, dan mag hulle verder soek vir enige ander mutasies. My bloed is ook getrek, om vas te stel of is dit iets wat oorgedra is of iets nuut.
Terwyl ons sit en wag, aangesien daar so vyf stelle ouers met ’n kind was, is daar verversings voorgesit. Die vrou haal een van daai groot bokse Bakerskoekies uit. Danel se oë rek en sy hardloop na die vrou toe.
“Tannie, Tannie?”
Sy buk af by Danel, “Wil jy ’n koekie hê?”
Haar hele houding sak. “Ons mag nie koekies eet nie, Tannie.” ... en sy kom met gesakte skouers terug na my toe. Ai, ek is trots! Ai, dis wreed. Ek is mos nie ’n wrede Ma nie?
Julle kan maar koekies eet, net vandag. Net omdat ons hier is en net omdat julle klein hartjies so dapper moet wees vir die hoeveelste maal.
Wel, dapper was hulle beslis en al die vrae is gevra en die ondersoeke is gedoen en die bloed is getrek met bitter min trane en moeite. Ek is super trots!
Ons ry huis toe. Ek sê vir Igie dat hy moet onthou dat die ander dokter ook bloed soek. Is hy oraait daarmee om weer bloed te trek? Hy sug. “Mamma, hoekom soek almal nou skielik my bloed? Is hulle vampires of wat?”
Haha – ek rol amper die kar van die lag.
“Hoekom soek hulle my bloed?” Herhaal hy.
“Hulle moet kyk wat maak jou so spesiaal.”
“Hoekom?”
“Want as jy nie spesiaal is nie, mag jy nie in Meerhof bly nie.”
Mammas moet weet hoe om hulle kinders af te pers. Ons moet! Hoe sal ons anders ooit wen? Igie is verskriklik lief vir sy skool, so hy sal enige iets doen om daarin te bly. Ek’t hom stil vir ’n rukkie, toe vra hy; “Maar wat as hulle sien ek is nie regtig ’n mens nie?”
“O? Wat is jy?”
“’n Alien, soos THOR!”
Danel, van die agtersitplek ... “En ek is ’n feetjie!”
Dan kan ek nie help om saam te speel nie. “Ja en ek is die wrede heks wat julle vet maak en een van die dae gaan opvreet! Mwhahaha!”
Lang storie kort. Die bloed gaan getoets word maar ons gaan moontlik ’n jaar wag vir antwoorde. Voordeel is, dit kos ons niks. Intussen hou ons by ons gluten, suiwel en GMO vrye leefstyl. Dit werk!

Comments