Hou jou Skoenlappers, my kind.
- Anria Breed
- Mar 21, 2019
- 2 min read
Binne jou hart is daar vrolike fladderende skoenlappers. Vir elke gevoel, ’n skoenlapper van ’n ander kleur. Wanneer jy gelukkig is, vlieg jou skoenlappers vrolik en vry rond net waar hulle wil wees. Hulle vlieg buite jou hart en reis die wêreld vol. Hulle bring vir jou geluk terug. Nou en dan ontmoet mens iemand wat jou skoenlappers vang en in ’n hok sit. Die helderkleurige skoenlappers vervaal dan ... hulle raak dof en vol stof en as jy nie self besluit om die hok se slot af te breek en jou skoenlappers weer los te laat nie, word hulle almal swart. Maar sodra die son weer ingelaat word, sodra ’n ligte windjie oor die swart skoenlappers waai ... sal die stof sommer self besluit om af te klim en jou skoenlappers se vlerke sal groot oop sprei en hulle sal weer die wêreld invlieg en jy ... dan sal jy weer weet hoe om te lag. Daar is altyd hoop.
©Anria Breed (Volg net die Skoenlappers)
Ek het besluit om vir Danel te leer dat sy niemand ooit die voorreg moet gee om haar skoenlappers te vang nie.
Ek het besluit om haar sterk en vol selfvertroue groot te maak. Sy moet nie huiwer nie. Sy moet nie arsel nie. Sy moet weet wat sy wil hê, wanneer sy dit wil hê en sy moet nie bang wees om daarvoor te werk of om te glo dat sy dit verdien nie.
Op ses jaar oud, weet sy dit.
Ek het nie geweet hoeveel geduld so ‘n klein, sterk meisiekind se ma moet besit nie!
Danel hoor vanoggend voor skool dat die seun wat saam met ons skool toe ry, gaan nie vandag by die naskool wees nie en terwyl sy staan met haar bakkie pap in haar hande, bars sy in trane uit.
“Wat nou?” Vra ek, en vertel haar dat as hy nie saamry nie, kan sy heerlik agter in die kar lê en slaap op pad huis toe vanmiddag. Iets wat sy nie hierdie jaar meer eintlik doen nie, maar aanhou sê sy wil eintlik. Sy kyk my vir ‘n rukkie aan met haar unieke oë en vra; “Maar wat gaan ek eet?”
“Danel, jy’t ‘n hele sak vol kos vir skool en naskool, maar eet asseblief eers jou ontbyt klaar voor jy huil oor wat jy vanmiddag vieruur gaan eet.”
Iewers het ek ‘n meme gelees : I’m not like other girls. I know exactly what I want for dinner. I’ve been thinking about it since lunch. Seker gaan Danel ook so tipe vrou wees. Sy gaan nie speletjies speel en van haar man verwag om te raai waarvoor sy lus is nie. Sy sal hom beveel om presies dit wat sy wil hê te gaan koop! En hy gaan dit sekerlik met graagte doen, want as sy haar mooi ogies groot maak en haar stemmetjie sag, dan voel enige daad wat jy vir haar doen soos ‘n plesier.

Comments