Ig-man kan fietsry
- Anria Breed
- Mar 6, 2019
- 2 min read
Die mees algemene opmerking wat ek ontvang wanneer ek vir iemand van my en my kinders se nuwe leefstyl vertel, is dat dit klink soos baie werk.
Ja, dit is baie werk. Veral omdat alles heeltyd moet vars wees. Vars vrugte en groente en geen, geen brood of enige prepacked kosse nie.
Ja, dit is ’n helse klomp werk wat ek met liefde doen vir my kinders want die verskil is daar! Ek weet nie waar om te begin met die vertel van die dankbaarheid wat binne my borrel nie.
Igie is nege. Toe ek nege jaar oud was, het ek al gedigte geskryf. Dit is iets wat natuurlik na my toe gekom het. Ek het nooit gesukkel met lees en skryf nie. Klanke het reg geval in my ore. Ek het dit verstaan. Ek het dit gehoor en onthou . . . dit was regtig moeilik om te verstaan, te besef en te aanvaar dat Igie daarmee sukkel.
Dit het vir lank nie vir my sin gemaak nie.
Die eerste keer dat Igie sy leesboek vat ’n paar weke terug en ek wys vir hom die letters, . . . en hy sê die letters. Die regte letters! Die eerste keer toe hy spel k-a-t toe loop die trane net. Ek het my hand oor my mond gehou en die trane laat los om daaroor te stroom.
Nou as Igie vir my moet lees, dan vra hy of gaan ek weer huil. Ek gee nie om as hy my terg nie, want hy weet hoe trots ek op hom is. Hy sukkel nog, nie al die woorde maak vir hom sin nie, maar hy begin. Hy begin!
Hy kan ook ’n voorwerp, soos ’n lap of ’n speelding, of ’n bal in die lug gooi en dit vang. Hy vang! Hy vang die voorwerp wat hy in die lug gooi raak! Hy is so trots op homself as hy dit regkry.
En die afgelope naweek het daar nog ’n wonderwerk gebeur. Igie ry fiets sonder kleinwielietjies. ’n Jaar terug kon hy nie eers fietsry met die wielietjies aan nie! Toe sy oupa vir my die video stuur, weer . . . trane. Ek is so dankbaar vir al die ondersteuning wat ons ontvang. Is dit nie fantasties nie?
Met nog so bietjie genade en baie vroeg se opstaan gaan my kind tog nog eendag net ’n normale seuntjie wees. Wie weet, dalk nog voor sy tiende verjaarsdag!

Thx Nig. Ek is baie dankbaar!
Wonderlik!! Super duper trots op jou Igie!! "Success is not about WHAT you have, but WHO you have!" En Mamma jy is TOPS!! xxx