top of page

Jy mag voel

  • Writer: Anria Breed
    Anria Breed
  • Aug 29, 2019
  • 2 min read

Ek wil nie op tone trap nie, maar ek wil dit sê want ek voel dat daar dalk iemand is wat dit gaan lees en nodig het om dit te lees.


JY KIES NIE WAT JY VOEL NIE, JY KIES HOE JY REAGEER OP WAT JY VOEL.


Ek was by ‘n lieflike damesoggend met heerlike kos en pragtige tafels en die mooiste handsak-koek wat ek in my lewe nog gesien het.

Die spreuker was ‘n aangename man wat met ons vrouens kom gesels het oor emosies.


Met 90% van wat hy vir ons dames vertel het, stem ek mee saam. Jy moet nie dat woede, mismoedigheid, hartseer, teleurstellings of skinderstories jou onderkry nie. Jy moet kies om jou gedagtes ander pad toe te laat loop … kies.


Ek moes daai keuse maak en ek is baie dankbaar dat ek hulp gaan vra het en daar iemand was wat my kon help en verduidelik hoe om my gedagtes te beheer – stil te maak. Te stop. Om te draai. Vernuwe. Oor begin en skoon te begin. Dit was ‘n lang pad, maar dit is ‘n moontlike pad.


Wat ek nie van gehou het, wat die oom vertel het nie, is dat hy beweer ‘n gevoel is ‘n keuse. Hy sê ‘n mens kies om kwaad te word of om seergemaak te voel. Hy sê dat jy weet dalk nie jy maak daardie keuse nie, maar jy maak dit steeds.


Nee. Jammer, oom. Daarmee stem ek glad nie saam nie en ek het ‘n paar vrouens dopgehou met jou woorde en ek weet, uit ondervinding, dat mens nie sulke goed vir gebroke vrouens moet vertel nie.

Jy breek hulle net verder.


Stop eerder jou vrolike, oppervlakkige raad en besef dat daar baie dinge in hierdie wrede wêreld is wat aan vrouens gedoen word, teen hul wil, wat gevoelens wakker maak waaroor hulle geen beheer het nie. Dit is onmoontlik om te beheer wat jy voel. Jy kan nie. Jy kan kies om jou gevoelens te beheer, of om dit te verhoed om jou lewe oor te neem en jou geluk, vrede en vryheid te steel. Ja, daai is ‘n keuse … maar hoe jy oor ‘n gebeurtenis voel is totaal en al nie onder jou beheer nie.


Ja, jy beheer jou gedagtes, jou keuses en jou optrede.


Ja, jy kies hoe jou gevoelens jou aanraak (en ook vir hoe lank).


Maar NEE, jy kies nie wat jy voel nie.




Comments


 anria se stories 
  • Facebook Basic Black
  • Black Instagram Icon

Teken in op my nuusbrief en ontvang nuus van nuwe boeke & blogs!

Proudly created by CSaw Designs

bottom of page