Kersfees is anders
- Anria Breed
- Dec 27, 2018
- 2 min read
Die eerste ding wat ek gewoontelik gedoen het wanneer ek ophou werk, is om twee bokse koeldrankroomyse te gaan koop en die vrieskas onder vol te maak. Want ek netsoveel soos my kinders weet daar is niks beter wanneer die Desember hitte by jou slape afdrup, as om ’n yskoue roomys uit die vrieskas te haal en so af te koel nie. Ek sou dan die roomys lekker Desember lank opvul, sodat ons later half dik daarvoor geraak het. My kleinboetie het eenmaal gespot met Kersfees en gesê dat mens is gewoond iemand se vrieskas is vol vleis, nie sò baie roomys nie!
Aangesien ons in die lug woon, sonder erf en sonder spasie vir ’n opblaas-swembad, is dit ’n goeie manier om af te koel. Maar hierdie jaar is anders.
Hierdie jaar mag ons nie koeldrankroomys eet nie. Ons mag geen roomys eet nie, of . . . nie bekostigbare roomys nie. Ek wil nog die coconut milk roomys probeer maak.
Het iemand al?
Het julle vir my tips?
Hoe maak mens roomys sonder ’n roomys masjien?
Hoe koel mens af sonder lekker yskoue ysies of roomys of net ’n groot glas Coke?
Tannies en oumas wil die kinders bederf. “Ek het lekker koue melkysies.”
Jammer, die kinders mag nie melkysies eet nie. Dan kyk hul my met groot oë aan terwyl ander kinders hul daaraan verlustig en dan bloei my hart en ek sak my kop en sê: “Goed. Net een.”
Dan is dit asof my kinders ’n duisendrand se geskenk gekry het! “Regtig Mamma? Dankie, Mamma!”
My kinders was nooit afpersbaar nie, ek moet bieg - nou, met die nuwe leefstyl sal hul enige iets doen vir die kans om Wimpy toe te gaan en net ’n gewone hamburger te eet!
Vir kinders wat nooit toebroodjies wou eet nie, raak hul regtig nou baie lus vir brood. Vreemd dat ek weer glad nie meer lus word vir brood nie. Ek probeer om nie letterlik my neus op te trek vir die verskillende brood op die rak nie . . . maar, ’n Wimpy hamburger bly tog steeds lekker!
Die kinders, wel . . . Kersfees is anders sonder sjokolade en roomys en suikerkoekies, maar ons kom reg.

En die tannie het ook bederf xxx