Keuses
- Anria Breed
- Jul 15, 2019
- 2 min read
Elke sekonde is ‘n keuse as jy mooi daaroor dink. Daar is moeilike keuses en dan is daar keuses wat natuurlik kom. Soos om asem te haal, of te eet. Natuurlike keuses waaroor jy nie lank hoef te dink nie. Wàt om te eet is soms ‘n moeilike keuse … maar die keuse om te eet is nie … (onder om normale omstandighede).
Dan is daar keuses wat baie moeilik is. Soos om te bedank, om ‘n leening aan te gaan … om te skei.
Soms moet daar moeilike keuses gemaak word, om aan te hou leef.
Soms moet jy ‘n moeilike keuse maak, om ‘n beter lewe nie net vir jouself nie, maar vir jou kinders ook, te waarborg.
Die belangrikste van keuses is egter dat wanneer jy daardie besluit geneem het, moet jy nie terugkyk of spyt wees daaroor nie. Jy moet onthou dat op die oomblik wat jy daardie besluit geneem het, was dit die beste ding om te doen. Niemand weet wat die toekoms inhou nie. Jy moet in geloof jou keuses maak en met volharding daarby hou.
Ongelukkig het keuses wel nagevolge. Keuses oor kinders het soms die nagevolg dat daar oomblikke in hul lewe gaan wees dat wat met hulle gebeur buite jou … hande … buite jou beheer is.
Om te onthou dat hulle in die eerste plek nooit in jou hande was nie, maar in die groot en Heilige hande van die Hemelse Vader, is soms al hoe jy kan cope … hoe jy by volle verstand bly en nie malraak met vrees oor waardeur jou kinders gaan as jy nie daar is om dit te keer, of beter te maak nie.
Om ander mense se keuses te oordeel, is een van die maklikste dinge om te doen. “Ek sou nooit …”
Dit is soos moord. Niemand weet of hulle instaat is tot moord, tot die moord gepleeg moet word nie.
Moet nie oordeel, as jy nooit voor daardie bult kom nie. Sê eerder net dankie dat jy nie daardie keuse hoef te maak nie.
… en, as dit sou gebeur dat jy verkeerde besluit geneem het, en iemand word seergemaak … erken dit en gaan maak reg. Die lewe is kort. Die lewe is onverwags.

Comments