Lusmakertjie (Deel 1)
- Anria Breed
- Jul 26, 2019
- 2 min read
Uitdagings. Asof ek nie reeds genoeg het nie! Nee, Anria is van … kom, bring, gooi nog hooi op my vurk. Ek smag daarna … nee. Ek doen nie regtig nie. Eintlik wonder ek nogal baie hoe my lewe sou wees sonder uitdagings. Dink net, alles loop reg … jy het jou werk, wat jy doen. Vaste ure. Vaste werk. Jy weet presies wat is jou verantwoordelikhede en jy kom dit na. Jy het kinders, sonder uitdagings. Hulle is op skool, kan lees en skryf, doen bogemiddeld … doen ook een of meer naskool aktiwiteite. Iets eenvoudig, soos atletiek of netbal.
Jy het iemand wat jou huis eenmaal per week skoonmaak. Jou wasgoed is gestryk en jou vloere is skoon.
Jy kan enige kos voorsit, dit hoef nie gluten of suiwelvry te wees nie. Jy het ook genoeg inkomste om elke maand vleis te koop.
Jy het ‘n man, met ‘n standvastige werk wat elke aand by die huis slaap en jou help om jou normale kinders te bad en betyds, elke aand om agt, in die bed te kry.
Na agt, kan jy ontspan. Dan kan jy of boeklees of jy en manlief kan gesels, of saam TV kyk.
‘n Heerlike, normale lewe.
Ek weet nie hoe dit sal wees nie …
Nee, Anria het geen van die bogenoemde nie. Ek het darem vrolike kinders wat baie liefdevol is. Dit kon erger gewees het.
Uitdaging! – merk hierdie blog as ‘n vervolgverhaal! – want Anria dwaaaaaal mos altyd af.
Dit gebeur wanneer jy en jou uitgewer ‘n goeie verhouding opbou. Hy stel voor: Anria, skryf ‘n kinderboek. Dit moet vir meisies tussen nege en dertien wees. Ek wag.
Ek skryf …

Commentaires