Markte
- Anria Breed
- Apr 4, 2019
- 2 min read
Die afgelope naweek was heerlik besig. Ek het Saterdag met my- en ander Groenheide boeke uitgestal by die HerfsMark, wat gehou is by Little Eden Venue in Brits; en Saterdag ‘n heerlike familie en potjiekos dag gehad by Zakopane Venue.
Pragtige uitsig by albei geleenthede gehad, waar my stalletjie skoon tuis en snoesig gelyk het. Die atmosfeer was rustig, die weer was perfek. Die geselskap was vriendelik en die belangstelling in my boeke hoog!
Dit is darem werklik wonderlik as iemand na die stalletjie kom en haar vinger op KATRIEN tik, opkyk en sê … “Hierdie boek lyk bekend.”
Lyk bekend.
MY BOEK LYK BEKEND.
Ek loop letterlik oor van dankbaarheid.
Daar is strepies gebrand op my voete en my skouers is rooi, maar ek glimlag groot. Ek is moeg en volgelaai tegelyk! Ek het moed vir die toekoms, en … dankbaarheid … vir die hede.
Ek glimlag nie meer net met my mond nie, maar met my oë en my hele bestaan!
Die markte is baie interessant. Ek dink die voordeel wat ek het met die verkoop van boeke, is dat ek weet daar is mense wat lees, en mense wat glad nie lees nie. Die mense wat nie lees nie, kyk sommer so bo-oor my en my um, … rookie stalletjie. MAAR, mens kan sommer dadelik en duidelik sien watter mense hou van boeke. Ek weet, ek is een van daardie mense. Jy sien ‘n boekstalletjie sommer van ‘n afstand raak. Dis nie nodig vir fancy posters en vlaggies nie, as jy hou van boeke, sien jy boeke raak! En ek is beïndruk en dankbaar vir die hoeveelheid mense wat belangstel in boeke! Nie net my boeke nie, maar boeke oor die algemeen. Jong kinders wat met my staan gesels oor hoe lief hulle vir lees is. Is dit nie fantasties nie?
En “ … gedrukte boeke, nie die eBoeke nie … ” word baie gesê.
Ha!
(Dit is ‘n sarkastiese lag vir almal wat in hul lewe al aan my gevra het; “Wie lees nog boeke?”)
You go girl! Dis wat ek vir my gisteraand saggies gefluister het, terwyl ek baie versigtig room gemeng met Epsom Sout aan my seer, teer, rooigebrande skouers smeer …

Comments