top of page

My kop is in die wolke

  • Writer: Anria Breed
    Anria Breed
  • Jun 26, 2019
  • 2 min read

Vanoggend soos ek nader aan die berg ry, wens ek weer ek was nie die bestuurder nie. Julle mense wat rondgerits word … hetsy deur jou man of jou ma of ‘n gehuurde drywer – besef julle hoe gelukkig julle is?


Ek sit en steel kort-kort 'n kyk na dit wat ek gedink het is mis, soos dit oor die berg rol. Selfs in die ry kan ek sien hoe die spierwit (kom ons sê maar) mis rol onderdeur die donkerder wolke wat bietjie hoër op in die lug hang.


Dit ruik na reën vanoggend. Dit is winter, in Brits. Dit sal nie reën nie … maar dit ruik na reën en dit wat ek gedink het is mis, is toe net ook wolke.


Toe ek stilhou by die werk en rustig kan staan en opkyk, sien ek dat Jesus vanoggend weer besluitloos was en nie ge-stick­ het by een tipe wolk nie. Ook nie een kleur nie. Dit is vir my die heel mooiste!

Verskillende wolke van verskillend kleure, verskillende hoogtes in die lug.


Maar wanneer ek bestuur is die uitsig die mooiste. Tussen geboue hier by die werk kry mens net ‘n halwe prent.


As ek darem nie die drywer was soggens nie, en ‘n ordentelike kamera gehad het … dan sou mense my seker begin ontvolg het op FB – (asof ek so oortuig is julle doen nie dalk reeds nie??) – want ek sou darem baie wolke afgeneem het!


Maar dit is een ding van die omgewing waar ek woon, ons het byna regdeur die jaar die lieflikste wolke in die wêreld. Ek dink so.


Toe hoor ek ook iewers dat as iemand vir jou sê jy is die mooiste /beste/ slimste in die wêreld, moet jy die persoon vra of was hy dan al oral in die wêreld, want hoe sal hy anders weet?

Haha – ek het sommer maar net besluit ons wolke is die mooiste.

Klaar.




Комментарии


 anria se stories 
  • Facebook Basic Black
  • Black Instagram Icon

Teken in op my nuusbrief en ontvang nuus van nuwe boeke & blogs!

Proudly created by CSaw Designs

bottom of page