See in my siel
- Anria Breed
- Jan 9, 2019
- 2 min read
Ek wonder baie waar presies sit ’n mens se siel. Is jou siel so groot soos jou liggaam? (Want in daardie geval is ek bevoorreg met ’n lekker groot siel!)
Is jou siel in jou hart?
Is jou siel in jou gedagtes?
... of is jou siel net.
Miskien is jou siel net, ek weet nie. Maar wat as jou siel in jou gedagtes was? Of jou gedagtes is jou siel! O wee kyk, dan’t ek sommer ’n hele see vol siel want my gedagtes is nòg groter as my liggaam. Groot en diep. ’n Oneindige supply van onophoubare woorde wat rond vloei tussen opgemaakte klippe en deur magiese stroompies tot in liefdevolle riviere wat uitspoel in die see van my drome.
Ja, ek droom met my siel. Ek droom met my bestaan. Ek smag na dinge wat my siel voed. Dinge wat my siel benodig. My siel smag na die see, my siel smag na die woud. (Seker die Knysna woud meestal, maar enige woud sal soms doen.) Smagting na die voorreg om te kan en te mag skryf. Om stories te deel. Om ondervindinge te deel. Om my vrolike liefdevolle kinders met geliefdes te deel. Deel is lekker! Deel is om te weet wat daar is wat mooi is en dit vir ander te wys, veral as jy weet daar is iemand wat soms sukkel om te sien. Dan, veral dan, deel jy.
Ek smag daarna om al hierdie oneindige supply van stories wat in die see van my siel ronddobber op papier te plak sodat ek dit kan deel. Ek wil dit so graag deel!
Ja, ek droom met my siel. Ek skryf met my siel. Daar lê ’n stukkie van my siel in elke skryfstuk wat ek optower. Maak nie saak die hoe lank of kort dit is nie. ’n Stukkie van my lê daarin. Gelukkig is ek ’n see vol siel, so ek mag maar baie skryf. Ek behoort nie op te droog nie . . .

Comments