top of page

Soos mis voor die son.

  • Writer: Anria Breed
    Anria Breed
  • May 2, 2019
  • 2 min read

Interessant hoe dit voel asof die son sommerso oornag besluit om later op te kom. Aangesien ek en my kinders half ses soggens ry om sewe uur by die skool te wees, sien ons hierdie verandering aan die son met ‘n lieflike voorreg. Ons kan nou die son sien opkom, in die ry.


Danel word egter ‘karsiek’. O, wat ‘n aaklige gevoel. Ek het dit ook. Gelukkig sit ek nou selde agter in ‘n motor. Maar arme Danel, kyk … ons het nou al alles probeer. Middel sit, links sit, regs sit. Naar word sy naar. Veral omdat sy moet terugsit teen die sitplek en haar veiligheidsgordel aanhou.


My pa het my altyd aangeraai om by die venster uit te kyk – na die veld en die lug. Dit het gewerk, so lank ek nie afkyk na die strepe op die pad of in die motor rond nie.


So toe raai ek Danel aan om dit ook te doen. Probleem. Dit is die kant waar die son opkom. Die son skyn direk in haar ogies. Sy het ‘n oulike pienk sonbril, maar sy sê die son pla haar steeds. Igie raai haar aan om te bid. Vra vir Jesus om die son weg te vat.


Ek lag. Jesus kan nie net die son wegvat nie?


Maar Danel bid. “Jesus, dit is Daneltjie hierso. Vat asseblief die son weg.”


Nou, hierdie ma se brein spin om en om en om. Hoe verduideik ek nou aan my kind hoekom Jesus nie die son, wat besig is om op te kom, weg kan vat nie?


Selfde tyd dink ek dat hoe mooi bid Danel. In volle vertroue. “Dit is Daneltjie hierso.” Asof sy spesiaal is. Asof Jesus weet sy is “Daneltjie” en daarom sal Hy spesiaal na haar luister.


So asof sy reeds weet sy is ‘n Koningskind.


Elkgeval … intussen lag Igie sy vreeslike dierbare giggle-lag en ons ry nog aan en Danel sê: “Liewe Jesus! Die son pla my!” … en ek wonder wat om te sê maar dan antwoord Igie. “Kyk Sussie, die mis.”


En soos ons oor die nek ry, kom die vreeslikste mooiste mis oor die berg aangerol en beweeg stadig maar seker voor die son in.


Igie: “Sien. Jesus het gesluister.”


Danel is vreeslik in haar noppies en sê “Dankie, dankie, dankie!” en haal selfvoldaan haar sonbril af.


Ja. Die Bybel sê nie verniet, GLO SOOS ‘N KIND nie.




Comments


 anria se stories 
  • Facebook Basic Black
  • Black Instagram Icon

Teken in op my nuusbrief en ontvang nuus van nuwe boeke & blogs!

Proudly created by CSaw Designs

bottom of page