Ons was die afgelope naweek vir die eerste keer by my kleinboetie en sy pragtige vrou waar hulle woon na hulle troue in April. Ek wou al so lank gaan kuier het, maar met die blywende-petrolprysverhogins het dit ons al hoe langer en langer geneem om te spaar!
Hy het vir ons klein baba hoendertjies gaan wys en daarna het ons opgery heuwel toe om die uitsig te aanskou, gelukkig vir my, ek dink hy’t sy tydsberekening goed gehad want hy weet hoe lief ek daarvoor is, was ons net betyds om die son te sien sak. Pragtige vlaktes en heuwels en bome en wolke, veel mooier as dit waarna ek elke middag staar.
Ek woon op die vierde verdieping en het werklik ’n fantastiese uitsig oor Brits en die berge in die vêrte waaragter die son sak. Die berge, wat besig is om in koppies te verander omdat dit vernietig word om die graniet uit te haal.
Reg langs die woonstelblok waarin ons woon, is ’n sekuriteitsfirma. Wanneer Igie en Danel saam met my staan om te kyk na hoe die son sak, word hul aandag keer op keer afgetrek deur die “army” manne wat onder rond kriewel soos miere – miere met stemme soos donderweerslae! O wee, hulle kan nie sag praat nie. Dit is altyd ’n geskree. Dit is altyd ’n gefluit en gevloek en gegiggel. Hard! Mens sal sweer hulle is in die vlaktes in die bosveld waar niemand hul kan hoor nie.
Dit was die lekkerste deel van die naweek, toe ons op die heuwel staan en kyk hoe die son sak. My kleinboet het die bakkie afgeskakel en vir ’n rukkie het niemand gepraat nie. Hy’t gesê ons moet luister.
Ons het geluister en daar was niks om te hoor nie. Geen masjien, geen motor, geen mens. Net die vlaktes se stilte en die voëltjies wat vrolik in die stilte saggies fluister.
Die arme voëltjies waar ek woon moet ook skree, want die sekuriteitsfirma se mense weet ook blykbaar nie hoe om ’n bakkie se alarm af te skakel nie, want, maak nie saak watter tyd van die nag nie, die deure word oopgeruk sodat die alarms kan skree.
Vanoggend terwyl ek myself probeer aanskoulik maak vir die res van die wêreld (want die hitte put my uit en ek voel net blah), skree die “army” manne weer opmekaar. Ek knyp my oë toe en wens ek was weer in die stilte van die bosveld.
Skielik hoor ek ’n brullende stem van die vyfde verdieping skree: “warasa wena!” en ek dink, dankie tog! Want daar was oombliklike stilte ... vir ’n paar minute, toe begin dit weer ...

Comentarios