top of page

Storie Tyd

  • Writer: Anria Breed
    Anria Breed
  • Nov 30, 2018
  • 2 min read

Updated: Jan 18, 2019

Ons lewe in so ’n gejaag dat die kosbare dinge in die lewe meestal ongesiens verbyvlieg. Daar word nie sonder rede gereeld gesê, stop and smell the roses, nie.


Tyd vlieg ook verby. Na werk is dit kosmaak en opruim en vir sommige van ons is dit nog wasgoed was en kinders help met huiswerk en wanneer jy weer na die horlosie kyk is dit al slaap tyd vir jou kinders.


Dink julle dat dit beter is om in so ’n gejaag, hierdie gejaag wat ons almal daagliks ondervind, beter om streng by bedtyd te hou, of sal dit nie skade doen om net tien minute te neem en saam met jou kind rustig te word en ’n boek voor te lees nie?


My kinders is lief vir stories. Eintlik hou hul meer daarvan as hierdie mamma vir hul stories opmaak, maar darem kry ek hul nog so nou en dan oorreed om een van die honderde boeke in hulle boekrak te kies vir my om vir hulle te lees.


Danel se gunsteling is die kraainesfeetjie. Ag, dis pragtig! En dit lees so lekker in perfekte rym.

Daar is verskeie rede waarom dit kinders baat om na stories te luister. Nie alleen verbreed hul woordeskat en word hul konsentrasie geoefen nie, maar ook hoor hulle presies hoe woorde uitgespreek moet word. Hulle leer van gevoel en dit wakker ook hul eie verbeelding aan, want wat kan dan lekkerder wees as om in jou snoesige bed te lê en opstaar na die dak, terwyl jy jou ma se stem hoor en jou gedagtes losgelaat word om heerlik in die vallei van verbeelding rond te baljaar!


Kinders se algemene kennis verbreed as daar vir hul gelees word. (Hierdie is nie net op kinders van toepassing nie, skryf ek met my tong in my kies) Het jul al gehoor van Mason Cooley? “Reading gives us someplace to go when we have to stay where we are.”


My gunstelling rede om vir ’n kind te lees, is natuurlik omdat hulle so kan leer van empatie. Dit is vir my baie belangrik. Dit is ’n eienskap van ’n goeie mens en maak ons tog nie almal ons kinders groot om goeie mense te wees nie?


Mohsin Hamid het gesê dat empatie is om eggo’s van jouself in ’n ander persoon te vind. ’n Boek is mos die perfekte plek om iemand soos jy in te vind?


Natuurlik is dit ook belangrik om jou kind aan te spoor om self te lees. So sal hul ook meer onderwerpe beproef en temas vind om oor te lees – wat hul sal help om wie hul is op te spoor. (Ai, die nooit ophou soeke na die “wie is ek” waarmee die mens worstel.)


Wel, in my persoonlik opinie vind mens baie antwoorde in allerhande boeke.

My kinders kan nie lees nie. Miskien sal hul eendag daardie voorreg hê? Wie weet. Met al hierdie toetse wat gedoen word en die nuwe eetgewoontes wat aangeleer is en ondersteuning en veranderinge en met die genade van God is niks onmoontlik nie, maar vir nou, . . . lees ek maar vir hulle.

Al moet hulle soms bietjie (te) laat gaan slaap.


Die Kraainesfeetjie - Danel se gunsteling storie

Comments


 anria se stories 
  • Facebook Basic Black
  • Black Instagram Icon

Teken in op my nuusbrief en ontvang nuus van nuwe boeke & blogs!

Proudly created by CSaw Designs

bottom of page