Toe nie SuperWoman nie.
- Anria Breed
- Apr 11, 2019
- 2 min read
Dit is ook nou nie asof ek myself regtig insien as WonderWoman, of SuperWoman of enige vorm van super nie, maar ek het gedink ek is redelik tough. Ek het gereken my gesondheid is (met dankbaarheid) bo normaal goed en ek het niks om oor te worry nie. Ek kan al my aandag, tyd en energie aan my kinders skenk.
Nee wat, laat slaap pla my nie. Laat gaan slaap ook nie. Min eet ook nie, want ek pak eerder vir die kinders heerlike gluten vrye kospakkies in skool toe en eet hier by die werk watookaldaaris.
Stres? Ja, maar wie stres nie? In elk geval is ek al deur so baie – regtig, erger dinge het al in my lewe gebeur as wat nou aan die gang is. (’n Egskeiding, mishandeling, dood, skinder, finansiele probleme, ens.) Nou, wanneer dinge na die beter kant van sleg begin lyk, hoekom sal ek nou ingee?
Ingee? Haha, ek het letterlik gedink dat ek kry ’n hartaanval ’n paar weke terug. My arm het vir ’n week lank gepyn, maar ek het gereken ek sit dalk nie reg by die werk nie. Die naweek daarop voel ek nie lekker nie, die mense wat my lief het bly vra wat is fout? Niks. Jy is stil? Ek weet. Wat pla? Niks. Ek word vies, want niks pla nie, maar daar is tog iets wat nie reg is nie. Is jy depressief? Ek? Nooit! Ek het dan niks om depressief oor te wees nie? ?
Maandag na ek die kinders by die skool opgetel het, in die ry, kry ek ’n onbeskryflike vreemde pyn in my bors, by my hart. Die pyn skiet af maag toe en op nek toe en my kake trek saam. My oë brand en ek sukkel om te fokus. Ek haal toe maar net my voet van die petrol af en konsentreer baie mooi. Toe die pyn weg is, stemboodskap ek my ma en my sussie, google gou die simptome van ’n hartaanval.
Lang storie kort, ons is veilig in Brits, apteek sê bloeddruk is normaal en daai aand nege uur voel ek eers weer soos myself.
Google, google ... seker die dokters se grootste nagmerrie.
Gaan dokter toe. Doen EKG. Bloedtoetse ... nee Anria is nie super nie. Anria is net mens. Anria het ’n baie groot vitamiene D te kort. BAIE groot. Sy moet ook (BAIE) gewig verloor want haar Insulin vlakke moet dopgehou word. Aanvullings. Slaappille. (Ek moet blykbaar meer slaap as vyf ure snags) en wonderlike adrenaline boosters!
Slaappille, nee ... ek is bang vir slaappille. Regtig. Dalk vertrou ek myself nie daarmee nie, maar dit is ’n storie vir ’n ander dag. Die aanvullings en energie boosters, saam met minder koffie en gesonder eet (ek pak nou drie kospakkies, nie net twee nie) (en tenminste twee liter water ’n dag) voel ek stukke beter! Ek het energie soggens, is moeg saans (is nou op sewe ure se slaap snags!) en ek lê ook nie meer lank om aan die slaap te raak nie.
Nou dat ek weer beter voel, besef ek eers hoe sleg het ek gevoel.
SuperMammas het ook hulp nodig.
Iets waarmee ek sukkel – die hulp aanvaar, maar ek kom reg! Ek drink pille!
(ok, ek drink van die pille)
#superwoman #ekisniesuperwomannie #somskortekhulp #wonderwoman #anriasestories #afrikaans #ekleesheideroos #groenheideboeke #ekleesafrikaans #blogger

Comments