Vigilante
- Anria Breed
- Jan 31, 2019
- 3 min read
(Vir Quentin Groenewald (my beste vriendin se man. ’n Goeie man en wonderlik pa, hy was ook my man op ’n tyd toe hulle nog in SA gewoon het. Hy was my “leen” man! En my kinders se “leen” pa – soos vir swem of om ’n wasmasjien te koppel, jy weet, sulke dinge.) - 2019/01/28
Wie ken vir Arrow? The Green Arrow? The Hood? – DC Comics? Wie is comic aanhangers? Dalk eerder Marvel, reg? The Avengers is baie beter. Ek weet. Maar Arrow is ’n baie goeie reeks en vir julle wat nie weet nie, Oliver Queen was ’n baie ryk en onbeskofte jong man wat amper doodgegaan het in ’n storm op ’n boot en hy’t uitgespoel op ’n verlate, onbekende eiland en toe gebeur daar vir vyf jaar al hierdie verskriklike dinge met hom, teen sy wil – maar hy het nie geweet hoe om op te gee nie. Hy het toe agtergekom hy is eintlik ’n goeie mens, maar sy verlede dryf hom elke maal daarnatoe om vir die regte redes, slegte goed te doen.
In die reeks is hy ’n Vigilante.
Nou, ek het hierdie fantastiese vriendin wat een van die dapperste mense is wat ek ken, want sy en haar man en hulle twee kinders het die groot stap gegee vol moed en met alle vertroue in God na NZ toe verhuis. Kyk, daar is GEEN ander mens op hierdie aarde wat ek meer mis as sy nie. Maar hierdie blog is nie vir haar nie (jammer, Ronica), hierdie blog is vir haar man. Want as daar nou iemand is wie Arrow soveel geniet het soos ek, is dit Quentin.
Hy motiveer my nog altyd om ’n storie te skryf oor ’n vigilante, dan moet dit rofweg op hom gebaseer wees ... so, in kort ... kom ons kyk wat sou die storie behels?
’n Lang, breëbors- man met waterblou oë wat besluit: genoeg, is nou genoeg. Hy spry sy valhelm swart, trek swart klere aan en klim op sy Suzuki. – ek weet nie of die Suzuki ook swart gespry gaan wees nie? Jo, sal jy jou Suzuki swart spry? Dalk eerder net die nommerplaat afhaal?
In elk geval.
Hy jaag deur die strate van ’n eens-klein dorpie in Noord-Wes, bekend as Brits en oral waar hy onreg teëkom, tree hy in ... jy sien want Super-Q weet wat is reg en wat is verkeerd. Hy het ook ’n baie sterk persoonlikheid, so hy sê wat is reg en wat is verkeerd en hy sal jou met ’n baie rein hart motiveer om te doen wat reg is, as jy verkeerd is. Super-Q se grootste mag is the power of persuasion. Want jy sal nog dink jy wil die winkel se venster uitslaan met ’n halwe stuk baksteen wat jy op die sypaadjie opgetel het, dan sal jy hom sien en jou hand sal vanself die baksteen laat val.
En ja, Super-Q se vrou weet hy is Super-Q. Sy weet en sy is trots op hom. Sy bewaar sy geheim. Sy sal self as dit daarop neerkom getuig in die hof dat hy tuis was, by haar en hulle twee kinders terwyl die Vigilante die dorp vol gejaag het op sy super-kief Suzuki en al die bose inbrekers (soos die dak-drawwer; ek moet julle nog eendag vertel van Brits se dak-drawwer!) oortuig om nie boos te wees nie. Hy sal nie eers sy valhelm hoef af te haal nie. Hy sal nie eers sy super-goeie ninja moves hoef uit te haal nie, want hy sal net met hulle praat en hulle sal luister. Want Super-Q weet wat is reg en wat is verkeerd en na ’n goeie gesprek met hom, weet jy ook.

Comments