Wat was... wat gaan wees
- Anria Breed
- Dec 31, 2018
- 2 min read
Twintig agtien. ’n Vol jaar. ’n Lang jaar. ’n Jaar propvol veranderinge. Veranderinge wat gesien kan word en veranderinge wat net gevoel word. ’n Jaar waarin een van my drome; waarin my grootste droom waar geword het.
My eerste Roman is gepubliseer. ’n Droom waaroor ek lank gedroom het, maar nooit werklik in geglo het nie. Die mense wat my goed ken weet vir hoeveel jaar ek al daarvan gedroom het. Dit is ook te danke aan die mense dat die droom kon realiseer. Ondersteuning, aanmoediging en motivering deur hierdie mense is wat my laat aanhou probeer het. Beste van alles is dat daarna twee HEIDEROOS ROMANSES van my ook gepubliseer is.
Hierdie is publieke veranderinge van twintig agtien. Dit het my gehelp groei. Dit het my selfvertroue in myself opgebou. Dan was daar ook nog ander veranderinge. Meer persoonlik. Veranderinge wat my en my kinders se lewens verander het. Veranderinge met antwoorde. Antwoorde oor my kinders – goed, al die antwoorde is nog nie gevind nie, maar met die veranderinge is daar soveel verbeteringe dat die jaar wat voorlê net met meer positiewe en opwindende veranderinge gevul gaan wees. Ek weet dit. Ek sien daarna uit.
Vir so lank was ’n oujaarsdag, net nog ’n dag. Nou, is dit die laaste dag van ’n jaar wat gevul is met groei en trappe wat ek kan agterlaat met ’n glimlag. Nie seer trappe nie. Nodige trappe. Trappe waarna jy nou en dan terugkyk om te sien hoe vêr jy gekom het.
Wat lê voor in Twintig Negentien? Nog boeke! Nog baie skryf. Meer gluten vrye kos. Lekkerder suiwelvrye kos . . . en geluk! Ek voorspel baie geluk vir die jaar wat voorlê.
Dankie, vir elkeen wat hierdie jaar deel was van my groei. Elke boodskap, elke oproep, elke drukkie. Elke hou van en elke lees. Elke kommentaar.
Ek waardeer julle.
Julle help my.

Comments