Wegkyk is ook sien.
- Anria Breed
- Jan 28, 2019
- 2 min read
Oë. Watter wonderlike eienskap van ’n mens is oë nie. Uniek. Diep. Betekenisvol. Iets wat my nog altyd getref het, is die verskillende dieptes van verskillende mense se oë. Mens sal dink elke persoon se oë is die ware vensters na hul siel. Dit is nie so nie. Daar is mense wie se oë net een doel het. Om te sien – ook, nie om dieper te sien nie. Net om te sien. Om die oppervlak(kigheid) van die wêreld te sien. Vir my as mens, as digter as skrywer, het dit lank geneem om te verstaan dat almal nie sien soos ek nie. Dat almal nie die verskillende blou van die lug beleef nie. Dat almal nie die verskillende ritmes van die wind voel nie. Dat almal nie weet hoe om toe-oë te staan en steeds te sien nie. Dieper kyk, is ’n gawe. Dieper sien en dieper voel. ’n Gawe en ’n straf. ’n Straf want alhoewel dit lieflik is om alles wat mooi is met oorgawe te beleef, beleef jy egter ook al die sleg met oorgawe. Elke woord wat sny, elke uitdrukking wat tref. Elke boom wat afgesny word. Elke kat wat honger ly. Elke mens wie se blik na jou terugstaar met diep seer in. Onverstaanbare seer. Onverklaarbare seer. Mooi oë, op straat, wat smeek en wat verhale wil vertel van dinge wat ons, die gewone mens, nooit sal verstaan nie. En al sluit ek my oë wanneer die vrou op die hoek by Pick ’n Pay met haar mooi rok aan vir my glimlag, sien ek haar steeds.
Soms kan ek nie help om te wonder hoe dit sou wees as ek in haar skoene gestaan het nie. Sou mense so na my kyk en dan met toe-oë wegkyk na hul vrolike kinders in die motor en net maak asof ek nie bestaan nie?
Hoe maak jy asof iets nie bestaan nie. Die wêreld is vol seer. Pyn. Dit drup-drup ... drup ... drup in die druppels reën wat nie meer val nie. Dit is weëmoed in die bome wat nie meer staan nie. In die uile wat nie weet waar om hul nesse te bou nie. In die rondlooper honde wat nie verstaan hoekom hul eintlik om aarde is nie. Dis seer.
Ongesiende, onaanvaarde, geignoreerde seer. Dieper as wat jy sien as jy net kyk na die oppervlak.
Partymaal word daar gesê dat mense weet hoe om gordyne voor hul oë te trek sodat mens nie kan sien wat binne aangaan nie, maar is ’n gordyn wat oor marteling getrek word nie die grootste teken van wat binne aangaan nie?
Ja, om weg te kyk, is om te sien. Om iets toe te smeer, is om te weet wat daar is om toe te smeer.
Die waarheid is daar. Soms is dit in wit en swart geskryf, maar mense wil dit steeds nie aanvaar nie.

Comments