top of page

Woorde wat weeg

  • Writer: Anria Breed
    Anria Breed
  • Feb 4, 2019
  • 2 min read

Woorde is swaar en lig. Woorde is hard en sag. Woorde kan seermaak en betermaak. Woorde is vol en leeg. Met genoeg beplanning en geduld, kan woorde gebruik word om diep snye in ’n stukkende siel te heg. Natuurlik nie een woord of een sin nie, maar met versigtig uitgekiesde woorde kan sinne so gestruktureer word dat dit net soos polyfilla wat gebruik word om die krake in ’n muur toe te smeer en later deel van die muur word; gebruik word om die krake in jou siel se tafels te vul. Versigtig en stelselmatig met liefdevolle sin vir liefdevolle verstigtige sin op ’n slag tot die krake toe is en die woorde-verf jou siel kan skilder asof dit nuut is.


Maar net soos woorde kan heg, is dit woorde wat die krake in die eerste plek daar in jou siel se tafels gesny het. Versigtig en beplande woorde. Ongeduldige woorde. Skerp woorde wat ’n pragtige siel kan stukkend sny. Meestal nie een woord of een sin nie – alhoewel een sin die mag het om raak te slaan, is dit meestal omdat jou siel reeds stukkend geslaan is. Een persoon kan jou lewe verander. Goed en sleg. Ja, jy het ’n keuse wie jy in jou lewe toelaat, maar slegte mense is nie altyd van die begin af sleg nie. Jy ontmoet nie iemand en hy begin jou (raak) slaan met wreede woorde wat jou binne laat bloei maar buite droog hou nie. Nee. Enige wrede, monsteragtige mens is goed daarmee om goed voor te kom. Ordentelik. Beleef. Goedgemanierd. Ware monsters is nie lelik nie. Ware monsters wys nie vir die wêreld hulle is monsters nie.


Ware monster wat goed is om met woorde jou siel te knak, weet ook hoe om jou op te bou. Hoe om jou te laat glo dat jy goedgenoeg is. Dan, wanneer jy dink jy is gelukkig, wanneer hul jou leer ken het en al jou geheime en swakhede ken, dàn slaan hul jou met die woordsambok. Oor en oor. Woord vir woord. Sin vir sin. Jy veg. Jy ontken. Jy weet jy is beter as dit maar dis te laat. Dit maak seer. Jy is stukkend. Die monster lag . . .


Net soos woorde seermaak, maak woorde beter. Soos ’n weegskaal. Balans is mos maar altyd beplangrik. As mens iemand versmoor met goeie, liefdevolle woorde dag na dag dan verloor die goeie, liefdevolle woorde hul waarde. Ek sê nie dat mens iemand nie met woorde moet wys hoeveel hul vir jou beteken nie. Inteendeel is ek iemand wat daaraan glo om altyd eerlik te wees oor hoe jy voel. Ek sê net, weeg jou woorde. Spoel dit in jou hart en in jou mond rond en konsentreer voor dit geuiter word. Gebruik woorde om mense op te lig, moet nie woorde gebruik om iemand af te dwing na die donkerte waar ons almal soms in wandel nie.



Comments


 anria se stories 
  • Facebook Basic Black
  • Black Instagram Icon

Teken in op my nuusbrief en ontvang nuus van nuwe boeke & blogs!

Proudly created by CSaw Designs

bottom of page